Beste Montie-ouers

Die Minister van Basiese Onderwys het aangekondig dat graad 12-leerders op 1 Junie 2020 weer moet terugkeer skool toe. Ek glo dat u en u kind, net soos ons, opgewonde is om saam te werk en van hierdie skooljaar ‘n sukses te maak.

Ons weet dat skoolgaan nie gou weer gaan lyk soos ons dit altyd geken het nie, maar Monties stuit ook nie vir uitdagings nie. Die Montana-span is slaggereed om die leerders te ontvang, en opgewonde om weer met onderrig te begin. Dit is egter baie belangrik dat almal verantwoordelik moet wees en selfgedissiplineerd moet optree.

Ons gaan alles binne ons vermoë doen om te verseker dat elke kind en huisgesin veilig is. Gaan vergewis u asb. weer van die inhoud van die brief wat op 9 Mei aan alle ouers gestuur is.

Ons weet dit gaan nie maklik wees nie, maar saam kan ons “vasberade opwaarts streef ” en ‘n sukses van ‘n onvergeetlike matriekjaar maak. Onthou: Dis nie hoe jy begin nie, maar hoe jy eindig.

Dawie Diedericks
Skoolhoof