GESKIEDENIS

Op 18 Januarie 1972 het die skool met ‘n leerlingtal van 250 ‘n aanvang geneem. Die amptelike inwyding het op 18 September 1972 plaasgevind.

Om ‘n naam vir die nuwe skool te kry was nie ‘n maklike taak nie. Na vele onsuksesvolle pogings om die skool van ‘n nuwe naam te voorsien, word die naam Hoërskool Worcester-Noord in Julie 1972 amptelik deur die Departement goedgekeur.

Dit word egter spoedig duidelik dat die naam nie ‘n goeie keuse was nie. Daar word besluit om die hele proses weer te hervat en uiteindelik in Maart 1975 is naam Hoërskool Montana aanvaar.

Die naam Montana beteken: afkomstig van ‘n bergwêreld – ‘n naam wat tekenend is van ons ligging tussen pragtige, omringende berge.
In September 1974 is die skoolwapen, soos ontwerp deur mev. H. Everson, algemeen aanvaar met die leuse “Opwaarts Steeds”.

Die druiwetros is simbool van ons distrik se ekonomie en versinnebeeld die vrug van ons arbeid. Die geel pyl na bo is ‘n beeld van die mooi berge wat ons omring en is ‘n voorstelling van ons leuse: “Opwaarts Steeds”. Dit dui op die belangrikste taak van ons skool, nl. Om die kind liggaamlik, verstandelik en geestelik al hoër te lei. Die kleure blou en geel simboliseer onderskeidelik hoop en rykdom.

‘n Skoollied het nog steeds ontbreek en na ‘n deeglike ondersoek, besluit die personeel in 1978 om aan Dirkie de Villiers van die Vrystaat opdrag te gee om vir die skool ‘n skoollied te skryf. In Oktober 1978 word die skoollied as afskeidsgeskenk van die matriekklas van 1978 aan die skool oorhandig. Die woorde is deur mevrou Doll de Villiers geskryf en die toonsetting is deur meneer Dirkie die Villiers gedoen.