Op 18 Januarie 1972 het die skool sy deure geopen met ‘n leerlingtal van 250. Die amptelike inwyding het op 18 September 1972 plaasgevind.

Die keuse van ‘n geskikte naam vir die nuwe skool was egter ‘n uitdagende proses. Ná verskeie onsuksesvolle pogings is die naam Hoërskool Worcester-Noord in Julie 1972 deur die Departement goedgekeur. Dit het egter gou geblyk dat dié naam nie die gewenste identiteit weerspieël het nie. Die naamsoekproses is dus weer van vooraf begin, en in Maart 1975 is die naam Hoërskool Montana amptelik aanvaar.

Die naam “Montana” beteken “afkomstig van ‘n bergwêreld” – ‘n treffende verwysing na die skool se ligging tussen die pragtige omliggende berge.

In September 1974 is die skoolwapen, ontwerp deur mev. H. Everson, amptelik aanvaar, saam met die skoolleuse: “Opwaarts Steeds.”

Teen 1978 het die skool steeds ‘n eie skoollied verlang. Na deeglike oorweging het die personeel besluit om die Vrystaatse komponis Dirkie de Villiers opdrag te gee om ‘n skoollied te skryf. In Oktober 1978 is dié lied as afskeidsgeskenk deur die matriekklas van daardie jaar aan die skool oorhandig. Die woorde is geskryf deur mev. Doll de Villiers en die musiek is gekomponeer deur mnr. Dirkie de Villiers.

SIMBOLIEK VAN DIE SKOOLWAPEN

In September 1974 is die skoolwapen, ontwerp deur mev. H. Everson, amptelik saam met die leuse “Opwaarts Steeds” aanvaar.
Elke element van die wapen dra betekenis: Die druiwetros simboliseer nie net die ekonomiese ruggraat van ons distrik nie, maar ook die vrug van harde werk en toewyding. Die opwaartse geel pyl verteenwoordig die majestueuse berge wat ons omring en sluit perfek aan by ons leuse – ’n herinnering aan ons strewe om voortdurend hoër te mik. Dit weerspieël die kernmissie van ons skool: om leerders liggaamlik, verstandelik en geestelik na groter hoogtes te lei.
Die kleure blou en geel dra ook simboliese betekenis – blou verteenwoordig hoop en visie vir die toekoms, terwyl geel ’n teken van rykdom en oorvloed is. Saam beliggaam hierdie elemente die waardes en aspirasies van Hoërskool Montana.

DIE SKOOLIED

In die skuiling van jou mure groei ons jeug se mooiste ure tot ‘n roeping en ‘n taak: om die hoop van voorgeslagte, deur geloof en al ons kragte, werklikheid vandag te maak. Daarom bly ons oop, ontvanklik, van jou voedingsbron afhanklik, waar jy bou aan gees en hand: en ons loof Gods groot genade vir geleentheid en vir gawe om te werk vir volk en land.

REFREIN
Hoërskool Montana, jy besiel ons vasberade opwaarts steeds te streef. Lojaal bly ons jou al ons lewensdae: Mag jy heerlik in jou taak bly leef! Ja, roemryk bly leef!.

SURICATA! - "WHA!"

MONTIES! - "GROM!"