TOELATINGSBELEID

Die beheerliggaam van die Hoërskool MONTANA het ingevolge artikel 5(4) van die Suid-Afrikaanse Skolewet (Wet 84 van 1996) die volgende beleid ten aansien van die toelating van leerders goedgekeur:

WOORDOMSKRYWING
In hierdie dokument, tensy anders bepaal of uit die samehang anders blyk, het woorde en uitdrukkings dieselfde betekenis as in die Suid-Afrikaanse Skolewet (Wet 84 van 1996) en beteken

  • “Beheerliggaam” die beheerliggaam van die skool soos voorsien in artikel 16 van die Suid-Afrikaanse Skolewet (Wet 84 van 1996);
  • “Grondwet” die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (Wet 108 van 1996);
  • “Skoolhoof” die prinsipaal van die skool soos bedoel in die Suid-Afrikaanse Skolewet, asook ‘n opvoeder by die skool wat met goedkeuring van die skoolhoof en die beheerliggaam namens die skoolhoof handel;
  • “Regulasies” die regulasies oor toelating wat deur die Lid van die Uitvoerende Raad in die provinsie WES-KAAP afgekondig is;
  • “Skool” die Hoërskool MONTANA;
  • “Toelatingsbeleid” die toelatingsbeleid in hierdie dokument vervat.

UITGANGSPUNT & BASIS
Die uitgangspunt en basis van die toelatingsbeleid is dat volle effek gegee moet word aan al die fundamentele regte van leerders en van hulle ouers in onderwysverband soos erken in die Handves van Regte in hoofstuk 2 van die Grondwet.

TOELATINGSBELEID IS ONDERHEWIG AAN ANDER WETLIKE BEPALINGS

Die beleid is onderhewig aan die bepalings van die Suid-Afrikaanse Skolewet (Wet 84 van 1996), die Wet op Skoolonderwys van die Provinsie WES-KAAP en die toepaslike Regulasies wat geldiglik ingevolge hierdie Wet gemaak, vir sover die vermelde bepalings bindend op die skool en die beheerliggaam is.

Uitleg van toelatingsbeleid
Die toelatingsbeleid word so uitgelê dat dit met ander toepaslike en geldige regsbepalings oor toelating versoenbaar is.

Sonder om die algemeenheid van artikel 3.1 te beperk, is dit die uitgangspunt van die toelatingsbeleid dat daar nie op enige relevante grond onbillik of onregverdig teen enige leerders gediskrimineer mag word nie.

WIE OM TOELATING AANSOEK MOET DOEN

  • Aansoek om toelating moet deur die ouer of voog namens die volgende leerders gedoen word
  • Elke leerder wat nie die vorige skooljaar in die skool as leerder toegelaat is nie.

PROSEDURE BY AANSOEK OM TOELATING

  • Alle aansoeke om toelating tot die skool namens ‘n leerder word by die skoolhoof ingedien.
  • ‘n Aansoek om toelating word slegs oorweeg indien dit geskied deur die korrekte voltooiing van die aansoekvorm wat van tyd tot tyd vir hierdie doel deur die skoolhoof in oorleg met die beheerliggaam goedgekeur word.
  • Die aansoek moet vergesel word van alle dokumentasie, of ware afskrifte daarvan, wat ingevolge die aansoekvorm voorgelê moet word.
  • ‘n Aansoek om toelating moet voor voorgeskrewe datum wat deur die WKOD bepaal is en wat die jaar van toelating voorafgaan, by die skoolhoof ingedien word: Met die verstande dat –
    a. aansoeke om tot graad 8 toegelaat kan word, tot aan die einde van Januarie van die graad 8-jaar geskied; en
    b. die skoolhoof om enige gegronde rede van die tydsbepalings ten aansien van aansoeke om toelating afstand kan doen.
  • Indien dit blyk dat ‘n aansoek om toelating wesenlik foutiewe inligting bevat word so ‘n aansoek verwerp. Enige toelating wat op grond van wesenlik foutiewe inligting verkry is, is ongeldig.

BEVOEGDHEID OM LEERDER TOT SKOOL TOE TE LAAT EN ROL VAN BEHEERLIGGAAM
Behoudens die bepalings van die toelatingsbeleid het die skoolhoof die bevoegdheid om ‘n leerder tot die skool toe te laat as hy of sy oortuig is dat aan al die vereistes vir sodanige toelating voldoen word en dat daar redelikerwys ruimte, fasiliteite en ander hulpbronne is om die betrokke leerder by die skool (insluitend ‘n koshuis van die skool) te akkommodeer en aan die leerder se opvoedkundige behoeftes te voldoen.

Die beheerliggaam kan aan die skoolhoof redelike riglyne verskaf, wat nie met hierdie beleid strydig is nie, wat hy of sy by die oorweging van ‘n bepaalde aansoek of aansoeke om toelating in die algemeen in ag moet neem.

Die beheerliggaam kan na goeddunke van die skoolhoof ‘n verslag aanvra ten aansien van die wyse waarop die toelatingsbeleid in die algemeen of in ‘n bepaalde geval toegepas word.

ALGEMENE KRITERIA WAT BY DIE TOELATING VAN LEERDERS IN AF GENEEM MOET WORD

  • By die oorweging van elke aansoek om toelating, moet die skoolhoof die volgende faktore behoorlik in ag neem –
  • Die toepaslike vereistes in die Regulasies.
  • Die feit dat ‘n leerder se ouer of voog permanent in die onmiddellike omgewing van die skool woonagtig is en die skool die naaste redelikerwys toeganklike hoërskool aan sodanige woonplek is.
  • Die feit dat ‘n leerder se ouer, broer of suster ‘n leerder by die skool is of was.
  • Die redelike beskikbaarheid en toeganklikheid van ander skole in die omgewing waar die leerder se fundamentele regte op taal, kultuur en godsdiens in onderwysverband behoorlik uitgeoefen kan word.
  • Die werklike of potensiële akademiese vermoë van ‘n leerder. Graad 8 en 9 leerders moet wiskunde die voorafgaande jaar geslaag het.
  • Die vermoë van die leerder om Afrikaans voldoende te verstaan en te gebruik, aangesien die skool as Afrikaansmediumskool bedryf word.
  • Die oorweging dat voorkeur verleen moet word aan die behoeftes van leerders wat reeds in die skool is en dat hulle ‘n redelike geleentheid gegun moet word om hulle skoolopleiding by die skool te voltooi.
  • Enige ander faktor wat na die mening van die skoolhoof of die beheerliggaam redelikerwys in ag geneem behoort te word by die oorweging van ‘n aansoek om toelating.

SEKERE BESONDERHEDE VEREISTES VIR TOELATING TOT DIE SKOOL
Benewens enige ander vereiste wat volgens die toelatingsbeleid of deur die reg gestel word of gestel mag word, kan ‘n leerder net tot die skool toegelaat word –

  • indien daar ruimte, fasiliteite en ander hulpbronne in of by die skool is om die leerder te akkommodeer ingevolge die redelike norm dat die skool vol is indien daar reeds meer as 550 leerders vanaf graad 8 tot 12 in totaal toegelaat is en daar in die algemeen hoogstens 35 leerders per klas is (ook ten aansien van keuse-vakke wat ‘n potensiële leerder wil aanbied): Met dien verstande dat indien ‘n potensiële leerder toelating verlang nadat die skooljaar reeds amptelik begin het en wie se vakpakket nie ooreenstem met een van die vakpakkette wat deur die skool aangebied word nie, se toelating slegs goedgekeur sal word indien daar besondere redes bestaan om toelating te verleen en dit redelikerwys moontlik is om die leerder te akkommodeer.
  • indien die leerder nie ouer is nie as die volgende ouderdom in die betrokke graad:
    Graad 8: 14 jaar of 15 jaar oud word
    Graad 9: 15 jaar
    Graad 10: 16 jaar
    Graad 11: 17 jaar
    Graad 12: 18 jaar
    i. ‘n Leerder kan bogenoemde ouderdomsperk hoogstens die voorafgaande November of Desember bereik, anders moet die ouderdom die betrokke jaar bereik word.
    ii. indien die leerder se ouer skriftelik onderneem dat die leerder die gedragskode van die skool (ingevolge artikel 8 van die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 daargestel) stiptelik sal nakom en dat die ouer alle redelike stappe sal doen om sodanige nakoming te verseker;
    iii. indien die leerder se ouer skriftelik onderneem om die toepaslike skoolfonds te betaal deur ondertekening van die standaard-ooreenkoms van die skool in hierdie verband.

WAGLYS
Indien ‘n leerder nie tot die skool toegelaat word nie maar die betrokke leerder wel vir toelating kwalifiseer indien daar nie voldoende ruimte, fasiliteite en ander hulpbronne by die skool beskikbaar is volgens die norme in artikel 8.1 na verwys nie, moet die skoolhoof sodanige leerder se naam op ‘n waglys plaas. Die skoolhoof kan op ‘n billike wyse toelating verleen aan leerders wie se name op die waglys is wanneer ruimte en fasiliteite beskikbaar raak.

INWERKTREDING
Hierdie beleid geld ten opsigte van alle toelatings tot die skool.